Waar is die manne?

Waar is die manne?

Ek het in die laaste ruk betrokke geraak by 'n globale beweging met die bedoeling om 'n 'Zero waste' leefstyl te handhaaf, kortliks behels dit die aanpassing van jou huishouding of gesin se lewensstyl tot so 'n mate dat julle geen afval produseer nie. Dit is herwinning se ouboet hierdie, want die mikpunt is om eerder die skepping van afval te verminder of te elimineer, deur glad nie produkte aan te skaf wat verpak is in weggooi verpakking nie.

Die voordele van so 'n lewenstyl is baie, 'n skoner omgewing, 'n gesonder lewensstyl, en dit kan jou baie geld spaar (as jy nie vir allerhande foefies val nie). Wat die grootste indruk op my gemaak het, is die vereenvoudiging van 'n mens se lewe, hoe jy al hoe minder begin belangstel om 'goed' bymekaar te maak of te koop. Jy kry meer kans om rustiger te lewe, jy kry tyd om koffie te drink op jou stoep, of om net te sit en kyk en luister na die voels om jou, die lewe raak stadiger en lekkerder. Die 'Keeping up with the Botha's' probleem is by die deur uit, jou fokus het verskuif na wat goed is vir jou, jou mense en jou omgewing, wat ander van jou dink maak nie meer saak nie. Werk om jou huis word minder, om jou huis oor te verf is nou nie meer 'n prioriteit nie, as iets sy doel dien is dit goed so, of dit nou mooi of lelik is. Ek gaan koop nie meer 'n pakkie van 10 skroewe nie, ek gaan kry een by die buurman (in my geval my skoonpa wat op ons plot bly), en drink sommer koffie daar.

 

Wat my egter pla is hoe min mans betrokke is by die beweging, 99% van alle bydraes in die verband (plaaslik en internasionaal) word gemaak deur vrouens. Ek kry ook die gevoel dat daar met empatie na hulle pogings gekyk, so asof ons dink; "Ag, sy bedoel tog goed hiermee, kom ons koop maar 'n paar dromme om te help herwin', of 'Kom ons ondersteun vir mamma dat sy tog net voel sy dra by tot die huishouding/samelewing" Baie mans beweer ook hulle het nie tyd om na 'sulke goed' te kyk nie, wel, hierdie is juis iets wat vir jou meer tyd gaan skep, wat juis jou lewe gaan verbeter. Ander sal aanvoer hulle sit nie heeldag voor 'n rekenaar skerm en ruil raad uit oor waar om vleis te koop wat hormoon-vry is, of omgewings vriendelik verpak is nie, dan wonder ek, nou hoekom is die internet vol sinnelose plasings soos 'Toyota vs. Landrover' of 'Hallo julle, ek is in die mark vir 'n nuwe bakkie, en ek wil weet of ek model XYZ met swart of chrome buite-spieels moet vat?' Manne 'mors' net soveel tyd soos die vrouegeslag op die internet, so daai verskoning plak nie. 

As ek by 'n braaivleis is en begin praat oor die toestand van ons omgewing dan raak almal stil, snaaks genoeg blyk dit asof almal heeltemal oningelig is oor die krisis waarin ons wereld hom bevind. Dis altyd die 'mense in die townships' wat so mors of 'my buurman wat te veel water gebruik' Die vinger wys altyd weg en niemand neem verantwoordelikheid vir sy eie aandeel nie. As jy 'n Suid Afrikaanse man is, is die moontlikheid baie groot dat JY die katalis is wat alle verandering in jou huishouding dryf, ons word oor die algemeen as sterk, koersvas en hoof van die huishouding beskou. Dit is so ongelooflik belangrik dat ons die onderwerp begin aanspreek, dat ons bewus en bekend raak met die posisie waarin ons onselfwers bevind, en dan daadwerklik iets daaraan doen.

Onthou dit is 'n reis, 'n baie interesante en lekker een om te neem. Om te sien hoe jou gesin en mettertyd jou huishouding en omgewing transformeer is uiters bevredigend. Neem jou plig op as hoof van die huis en begin om 'n plan te vorm en implementeer, ons kan nie bekostig om hierdie bus te mis nie...